Nou het ek geleer daar is twee maniere van liefhê. Jy klou vas of jy laat los.
Na jare se onderdrukte vrese en verlangens klim Marta op 'n dag in haar motor en ry weg. Weg van haar man, Hendrik, weg van haar lewe op die plaas. Aan die Weskus vind sy 'n tydelike heenkome in 'n klein vissersgemeenskap. Die genesende waarde van die eenvoudige lewe by Koster en sy mense, die herwinning van selfvertroue en eie waarde, maak van Marta 'n ander mens. En selfs Hendrik kom geleidelik tot nuwe insigte deur die ontydige besoek van 'n jong familielid.
'n Meesleurende roman waarin die metamorfose van 'n emosioneel verwaarloosde vrou met menslikheid en humor weergegee word.
Eleanor Baker se eerste roman is in 1972 gepubliseer, maar dis met Weerkaatsings, 1984, dat sy werklik die aandag getrek het. Dit het 'n FAK-toekenning ontvang en het oorsee verskyn in Engels, Sweeds, Hebreeus, Deens en Fins. Haar roman Verbeelde werklikheid is 'n tour de force genoem en haar roman oor die Anglo-Boereoorlog, Groot duiwels dood, is ook in Nederlands vertaal. (rugteks)